Pieter H Stoker
Inleiding: skepping teenoor evolusie
Òf 'n mens aanvaar dat die wêreld deur evolusie geword het wat dit vandag is. Dan is die mens 'n toevallige produk van natuurprosesse, 'n skakel in die langdurige proses van vooruitgang vanaf die oerknal deur die huidige mens tot die supermens, wat eendag alles sal weet, verstaan en beheers. Dit is die grondmotief van humanisme.
Òf die wêreld is deur die God van die Skrifte geskape, met die mens as die kroon van sy skepping, na sy ewebeeld, as sy medewerker tot voleinding van die tyd. Na die sondeval het God Sy opdrag aan die mens om die aarde te bewerk en te bewaak (te versorg) nie verander nie, maar die mens het daarna sy opdrag met moeite uitgevoer. Sedert die ses skeppingsdae is God aktief in Sy skepping werksaam deur dit te onderhou en te bestier tot die Voleinding. Die Bybel se grondmotief kan saamgevat word met skepping, sondeval, verlossing en herskepping (wederkoms).
Die een beskouing sluit die ander beskouing uit, want die vooruitgangsmotief van evolusieleer laat geen plek vir die sondeval nie. Die evolusionis kan volgens die vooruitgangsmotief wel 'n skepping (oerknal) aanvaar asook 'n verlossing (van die rasionele, self-bewuste mens uit sy nie-rasionele, trop-instinktiewe (dierlike) voorvaders) en herskepping (deur menslike intellek en morele selfverbetering). Sodoende kan Christene en kerke die evolusieleer met die Bybel versoen as hulle afsien van die sondeval. Evolusie kan dan as 'n wyse gesien word waarvolgens God deur sy voorsienigheid alles tot stand gebring het na 'n aanvanklike skeppingsdaad (die oerknal). Daarna sit God en toekyk hoe die hemel en aarde en alles op die aarde vooruitgaande volgens natuurwette en deur natuurprosesse ontwikkel.
Is die mens werklik die kroon van God se skepping?
Die Bybel leer dat die mens as die kroon van God se skepping God moet dien en oor die skepping moet heers. Aan die mens is daarom 'n spesiale plek in die skepping met 'n spesifieke opdrag gegee. In Psalm 8 bely die psalmis dat die mens byna goddelik gemaak is, dat alle dinge onder sy voete gestel is en dat hy oor die werke van God mag heers, alles tot eer van die Skepper. Handhawing en uitbouing van ordelikheid in die natuur, en meewerking aan die doel en voleinding in die skepping volgens die raadsplan van God, is deel van die mens se roeping. Daar bestaan daarom 'n diepgaande harmonie tussen die rasionaliteit van die mens se insig en begrip en die rasionaliteit van die wêreld (die heelal), anders het die mens nie sy opdrag kon uitvoer nie, en het hy ook nie kennis kon vorm en wetenskap kon uitbou nie. Hierdie harmonie word egter verduister en dikwels vernietig deur die sondige hebsug van die mens.
Ongeveer 400 jaar voor Christus het die Griekse wysgeer Aristoteles die denke gevestig dat die aarde in rus is en dat die son, maan, planete en sterre daaromheen beweeg. Hierdie Aristoteliaanse wêreldbeskouing is deur die vroeë Christene oorgeneem nadat hulle die heidense elemente daarin verwyder of verchristelik het. Vir hulle was dit in ooreenstemming met die Bybel dat die aarde, die woonplek van die mens, die middelpunt van die wêreld moet wees.
Die Middeleeuse kerk het die verchristelikte leer van Aristoteles tot 'n dogma verhef waarvolgens die aarde die middelpunt van die heelal is. 'n Halwe millennium gelede het Kopernikus (1473-1543) en 'n eeu later het Kepler (1571-1630) en Galileo (1564-1642) teen hierdie kerklik-aanvaarde leer van Aristoteles van 'n aarde in rus ingegaan toe hulle uit waarnemings op planete tot die gevolgtrekking gekom het dat die aarde beweeg en nie in rus is nie. 'n Aarde wat saam met die ander planete om die son beweeg is vir ons vandag nie vreemd nie, omdat dit so aan ons van kleins af geleer word. Maar die aarde as woonplek van die mens was nou nie meer die middelpunt van die skepping nie. Daarmee het die wetenskap die mens as die kroon van die skepping van sy sentrale posisie in die heelal beroof.
Ook ons plek in die kosmos blyk niks besonders te wees nie. Ons leef naby 'n heel gewone ster, die son, waarvan daar miljoene in ons galaksie is. Ons galaksie is ook 'n gewone galaksie onder miljoene ander.
Biologies is die mens ook niks besonders nie. Die mens is biologies vir 99% identies met sjimpansees en word daarom onder die aaprasse geklassifiseer. Daar is net meer ingewikkelde chemiese prosesse in die mens as in die mees gevorderde diere.
Wat maak dan van die mens 'n besondere wese? Die antwoord was sy geestelike vermoëns en sy intellek. Die mens se self-bewussyn (diere het ook 'n bewussyn, maar is nie bewus dat hulle bewus is nie), sy vermoë om te praat en om sy gedagtes in woorde uit te druk, sy materiële en geestelike skeppingsvermoëns soos maak van gereedskap, bou van fabrieke, paaie, stede, om enkele te noem, sy letterkunde, maak van musiekinstrumente, skilderye, kunsvoorwerpe, lyftaal, kommunikasie, ensomeer. Maar het hierdie besondere vermoëns dan nie maar vanuit die dierlike bewussyn ontwikkel nie? Geestelike wetenskaplikes, ook teoloë, beskou vandag hierdie besondere geestelike en kulturele vermoëns, wat die mens radikaal van die dier onderskei, as resultate van 'n evolusionistiese ontwikkeling vanaf dierlike voorouers. Sodoende word vandag ook op kognitiewe en geestelike terreine die mens gereduseer tot 'n toevallige produk van natuurprosesse en is hy nie meer 'n geroepene van God nie.
Die religieuse grondmotief.
Elke religie het 'n grondmotief. Dit voorsien die diepste dryfvere en motiverings vir kulturele en geestelike ontwikkelinge. Wat was die religieuse grondmotief vir die Griekse denke sedert ~600 v.C.? Om die vraag te beantwoord moet ons eers nagaan wat die grondmotief van die Griekse natuurgodsdienste was.
Dooyeweerd (1959:15) het bevind dat die gemeenskaplike grondmotief van hierdie natuurgodsdienste in die tydsbegrip van die primitiewe bevolking gesetel was. Vir hulle het tyd, as 'n vergoddeling van 'n vormlose stroom van lewe, steeds in 'n sirkelgang tot homself teruggekeer. Byvoorbeeld 'n boom gee saad, die saad ontkiem, 'n boom kom op, groei en gee saad, gaan dood en verrot, die saad ontkiem - en die proses herhaal homself. Uit hierdie lewensstroom het telkens opnuut individuele gedaantes (vorme) van plante, diere en mense ontstaan, wat tot ryping kom, ondergaan, en weer opnuut opkom of gebore word. Alles wat individuele vorm het is tot ondergang gedoem omdat die vormlose lewensstroom sonder ophou voortgaan. Daarvolgens is tyd ook as 'n kringloop gesien en nie as 'n reglynig-voortgaande verloop soos Newton tyd gesien het nie.
Die primitiewe mens het in hierdie lewensstroom die werking van misterieuse (goddelike) kragte gesien, wat nie ordelik nie, maar volgens 'n blinde onberekenbare lot werk. Alle individuele lewe is aan hierdie onvoorspelbare lot onderhewig deur die werking van toevallige goddelike kragte, tot die dood intree en die organiese gestalte weer 'n vormlose deel van die aarde word. Alles gebeur toevallig, los van mekaar.
Die God van die Hebreërs verskil egter radikaal van die natuur- en vormgodedom van Grieke. Volgens Plato het die wêreld volgens ewig-geldende idees (vorme) tot stand gekom, en vir Aristoteles was materie altyd (ewig) daar en daarom is materie die fundamentele dryfkrag, die eerste (basiese) oorsaak vir alles. Aristoteles het verder geglo dat menslike rede (verstand) die samestelling van die wêreld kan ontdek en verklaar waarom die wêreld is soos dit is. In skrille kontras hierteenoor het die God van die Hebreërs die wêreld volledig verskillende van Homself uit niks geskape, soos Gen 1:1 dit stel "In die begin het God hemel en aarde geskape". In teenstelling met die verwarrende skeppingsmites van ander volke, het die skeppingsverhaal van Genesis 'n duidelike logiese struktuur. Die skeppingsverhaal getuig van 'n absolute oppermagtige, rasionele en liefdadige (welwillende) God, wat alles deur sy Woord tot stand bring en sy Goedheid en Wysheid aan alles oordra.
In die eerste eeue na Christus het verskillende Christelike wysgere 'n nuwe lewens- en wêreldbeskouing deel van die Griekse wetenskap gemaak : Die wêreld is deur God geskep en het geen dryfkrag van sy eie nie behalwe dit wat van God kom. Wanneer plante en diere groei, gebeur dit volgens God se bevel, volgens Sy skeppingsverordeninge. Waar panteïsme (god in die natuur) nie tussen God en Sy skepping onderskei nie, het die besef dat God nie deel van Sy skepping is nie, die pad oopgemaak vir die afbreek van Aristoteles se denke wat denke tot diep in die Middeleeue beheers het, en vir die opkoms van die moderne wetenskap.
Met die Hervorming het die Christene weer die natuur as 'n gawe van God aan die mens gesien, wat die mens kan ondersoek en bewerk en wat teen die kwaad bewaar moet word. Verder is besef dat die wêreld ordelik is. Daarom kan metings uitgevoer word om ons teorieë omtrent natuurprosesse te toets. Ordelikheid beteken dat herhaling van metings onder dieselfde omstandighede steeds dieselfde resultate binne meetnoukeurighede sal oplewer. Natuurwetenskaplikes kan daarom mekaar se resultate kontroleer en wetenskap kan sodoende gesamentlik gebou word. Deur hierdie wetenskaplike kennis leer die mens die skepping van God ken en maak dit moontlik om daaruit te haal wat God daarin gesit het. Dit alles moet egter, met die mens as rentmeester van die skepping, tot eer en verheerliking van die Skepper gedoen word. Natuurwetenskaplike arbeid is in die eerste plek gesien as 'n roeping in diens van God en moet geskied tot die eer en verheerliking van Sy naam. In die tweede plek is dit 'n diens aan almal en alles wat die vrugte van die natuurwetenskappe kan gebruik, want God het die aarde aan die sorg van die mens toevertrou en ook die natuurwetenskaplike is geroepe om hierdie sorg te aanvaar.
Die Hervorming het nuwe betekenis gegee aan die skepping van die wêreld deur God en die voortreflike genade van God, wat gerig is op die wêreld wat Hy deur Sy genade gemaak het, en wat gerig is op die roeping van die mens en op die volvoering van Sy raadsplan met die skepping. Dit is daarom nie verrassend dat die grondslae van die moderne natuurwetenskappe in die Christelike Weste (Europa) geleë is en nie in een van die bekende antieke beskawings soos dié van die ou Babiloniese ryk, of Egipte of Sjina nie. Dit blyk duidelik uit wetenskaplike geskrifte van baanbrekers van die moderne natuurwetenskappe. Hulle was Christene, soos Kopernikus, Kepler, Pascal, Boyle, Newton, Faraday, Maxwell, Ampère, en Pasteur. Hulle navorsing het deel uitgemaak het van die mens se gehoorsaamheid aan sy Skepper. Wetenskapbeoefening was in feite gesien as 'n onderdeel van hulle Christen-wees, waardeur die heerskappy van die mens oor die natuur wat hy by die sondeval verloor het, gedeeltelike herstel kan word.
Die Hervorming het die fundamentele dryfkrag voorsien vir die natuurwetenskap om selfaangedrewe te ontwikkel. Daardeur is die bloeitydperk van die natuurwetenskappe en die daaruit voortvloeiende tegniese ontwikkelinge ingelei.
Uit die Renaissance het outonome humanisme gegroei. Dit het in die agtiende eeu gelei tot die sg. Verligting of Aufklärung, ook genoem die eeu van die rede. Groeiende natuurwetenskaplike kennis het aanleiding gegee tot die ontwikkeling van empiristiese, naturalistiese en materialistiese beskouinge, in sterk teenstand tot kerklike leerstellinge. Die Verligting was 'n geloof ('n ongeloof!) wat geglo het in die neutraliteit van die natuurwetenskappe, d.w.s. God bestaan nie in die vorming en beoefening van wetenskap nie.
Hierdie sogenaamde neutrale wetenskap aanvaar dat die grense van menslike kenne in die geskape werklikheid self lê. Slegs dit wat die mens uit die geskape werklikheid kan leer, kan deel wees van die wetenskap. Die navorser is daarom gebonde tot eksperimente in sy natuurondersoek en tot die feitelike gegewens wat hy uit sy eksperimente kan verkry. Slegs dit wat waarneembaar is, hetsy visueel met die oog of deur sy apparaat, hetsy wetenskaplik-gefundeerde afleidings uit waarnemings en metings, moet dwingend aanvaar word. Dit beteken dat slegs die eksperiment gesag het. Newton sê letterlik dat die eksperiment die enigste reële (of werklikheids-) fundering van die wetenskap is. Dit is Empirisme.
Ontwikkeling van die tegnologie
Die tegniek is so oud soos die mensheid self. So lees ons in Genesis 4:17 dat Kain 'n stad begin bou het, daarna in vers 21 van Jubal wat "die stamvader was van dié wat op die lier en die fluit speel", en vervolgens van Tubal-Kain, wat "'n smid, 'n vakman in koper en yster" was. Tegniek was aanvanklik beperk tot handewerk van die mens en was deel van die menslike bestaan, om aan onmiddellike en plaaslike behoeftes te voldoen.
Die ontwikkeling van die tegniek was baie traag, eintlik staties. Energie vir tegniese arbeid is deur mens en/of dier verskaf. Tegniese ontwikkeling was aangedryf deur omstandighede om te oorleef. Eenvoudige gereedskap en werktuie, soos 'n blaasbalk, weefbank of meulsteen, is gebruik. Die uitvinding van die wiel, byvoorbeeld, is aangedryf deur die motief om strydwaens in oorlogvoering te gebruik. Daarvan lees ons in die oorlogvoering tussen die Israeliete en die Filistyne. Ook die draaibank, die pottebakkerswiel, die waterskepwiel, ensomeer, se ontwikkeling is deur omstandighede aangedryf.
Met die opkoms van die protestantse Christendom tydens die laat Middeleeue het die Europese Christen begin besef dat die mens 'n roeping het om God in Sy skepping te dien en om daardeur deel te neem aan die ontvouing van God se Raadsplan. Hierdie besef dat die skeppingsopdrag in Genesis aan die mens 'n kultuurmandaat gegee het, het tot 'n positiewe waardering van die tegniek gelei, met verskillende nuwe uitvindinge soos buskruit, boekdrukkuns, die kompas, die horlosie, die bril en teleskoop, asook verdere ontwikkelinge van menigvuldige instrumente vir natuurwetenskaplike en praktiese gebruik. Deur die uitvinding van boekdrukkuns as 'n praktiese tegniek ongeveer 1450 n.C. deur Gutenberg, het die eerste gedrukte Bybel, die Gutenberg-Bybel in 1456 verskyn. Deur die boekdrukkuns het die intellektuele lewe 'n omwenteling ondergaan.
Ambagslui was verantwoordelik vir hierdie ontwikkeling van praktiese tegnieke. Hierdie praktiese tegnieke het omstreeks 1800 oorgegaan tot moderne tegnieke wat uit natuurwetenskaplike kennis ontwikkel is en wat nie meer ambagtelik was nie. So het James Watt (1736-1819) die stoomenjin op grond van natuurwetenskaplike kennis kon ontwikkel. Dit was die begin van die industriële revolusie. Nou kon mensekrag en dierekrag vervang word met stoomkrag, wat uit die verbranding van steenkool verkry is.
Moderne tegniek maak gebruik van die feitelike en geordende kennis van die natuurwetenskappe om die natuur en sy hulpbronne te benut tot voordeel van die mens. Die tegniese ontwikkeling sedert die industriële revolusie is 'n teruggekoppelde proses. Om dit te verduidelik, laat ons begin met die uitvinding van die stoomenjin. Na die uitvinding het daar vir die vervaardiging van stoomenjins meer en beter yster nodig geword. Om dit te verkry, was meer steenkool nodig gewees. Die stoomenjin word toe self gebruik om te help by die myn van ystererts en steenkool, om water uit die myne te pomp, en by die produksie van yster. Nou kon meer stoomenjins gemaak word, waardeur meer steenkool en yster geproduseer word, vir meer stoomenjins, maar ook yster vir allerlei tegniese doeleindes. Deur die gebruik van meer stoomenjins kon meer steenkool gemyn en vervoer word en sodoende ook meer yster gemaak word, ensovoortss, in 'n steeds groter wordende spiraal. So 'n proses word 'n kettingreaksie of 'n teruggekoppelde proses genoem.
Iets dergeliks, net op 'n ander wyse en op 'n groter skaal, gebeur vandag. Dieselfde gebeur ook tussen die natuurwetenskappe en tegniek. Die kennis wat die natuurwetenskappe van die natuur verkry, open vir die nywerhede nuwe weë en moontlikhede tot tegniese skeppinge en vervaardiging, en tot uitoefening van mag oor die natuur. Ons kan dit tipeer met: Kennis is mag. Omgekeerd bied die nywerhede en die tegniek aan die basiese natuurwetenskappe vandag tegniese hulpmiddels, waar ons vroeër nie oor kon droom nie. Daardeur kan meer betroubare gegewens en nuwe en meer omvattende kennis ingewin word. Dit kan getipeer word met: Mag oor die natuur bied middele tot kennisvermeerdering. Meerdere kennis gee meerdere mag, terwyl meerdere mag weer nuwe kennis gee, waardeur nuwe mag oor die natuur verkry kan word, ensovoortss. Dit is 'n teruggekoppelde proses, 'n kettingreaksie, wat 'n eksponensiële ontwikkeling tot gevolg het. Dit is wat ons vandag beleef, tans in besonder deur die rekenaartegnologie.
Waarom evolusieleer vandag algemeen aanvaar word
Tegnologiese vermoëns en natuurwetenskaplike kennis het eksponensieel sedert die industriële revolusie gegroei. Dit het 'n grenslose impak op die mens se lewe gehad deurdat dit die hele wêreld vir die mens deur kommunikasie en transport oopgemaak het, pyn en lyding verlig het, die lewe aansienlik makliker gemaak het en tientalle jare tot die gemiddelde lewensduur toegevoeg het. Dit het 'n optimisme tot gevolg gehad dat daar geen grense aan groei en ontginningsmoontlikhede in menslike vermoëns bestaan nie en dat die mens se leefwêreld steeds tot nuwe hoogtes sal vooruitgaan. Dit is hierdie vooruitgangsgeloof wat die dryfkrag vir die uitbou van evolusieleer was en wat in die huidige postmoderne denke algemeen aanvaar word in alle lewensterreine.
Die modernistiese tydperk word gekenmerk deur die wetenskapsdenke wat sedert Kopernikus ontwikkel het en wat in die Verligting gedurende die agtiende en negentiende eeue 'n finale beslag gekry het. Natuurprosesse is meganisties, soos die werking van 'n masjien beskryf. 'n Meganisme is 'n produk met 'n ontwerp, d.w.s. dit het 'n struktuur wat sy maker aan hom gegee het. 'n Ontwerper is nie deel van die produk nie, maar sy produk moet in stand gehou word. Christene het hierdie meganistiese wêreldbeeld aanvaar met God as skepper en onderhouer daarvan. Die Verligting het die natuur egter as 'n masjien gesien, wat sonder God volgens natuurwette verloop. Hierdie wêreldbeeld is die basis van Darwin se evolusieteorie.
Deur die rasionalisme (die rede) van die Verligting is die natuurwetenskappe tot vroeg in die twintigste eeu al hoe meer losgemaak van die vraag na die betekenis van die menslike bestaan. Op die vraag: 'watter plek moet die wetenskap in die menslike samelewing inneem?' kan die antwoord wat die Verligting op hierdie vraag gegee het, kort saamgevat word met: 'die wetenskap moet in diens van menslike vryheid wees'. Uit hierdie antwoord blyk dit dat die beoefening van die wetenskap gerig word deur 'n selfopvatting van die mens. Vir die Verligting gaan dit in die menswees om 'n mondige mens, 'n mens wat vry is om sy hede en toekoms self te bepaal, 'n mens wat vooruitgaande deur eie vermoëns evolusionisties uit die dier ontwikkel het.
Gedurende die afgelope dekades het die mens in verset gekom teen die absolutisme van die meganistiese wêreldbeeld, waarvolgens die mens 'n rat in 'n wêreldmasjien is. Dit het tot die postmoderne denke gelei, waarvolgens elke mens as individu sy eie pad sonder voorskriftelike gesag vind. Maar die postmoderne mens wil tog bly vaskleef aan een of ander geestelike waarde, wat hom as mens aan 'n hoër mag kan verbind. Dit het hy in die evolusieleer gevind.
Evolusieleer en skrifgesag
Volgens evolusieleer is die natuur die moederskoot, wat deur evolusie aan alles, ook aan die mens, geboorte gegee het. Vandaar die uitdrukking moeder natuur. Hierdie beskouing het 'n diepgaande impak op die denke en handelinge van mense vandag,
Die feit dat die aarde 'n klein en onaansienlike planeet in 'n geweldige groot heelal is, beteken nie dat die mens onbelangrik is nie. Wetenskaplike kennis dui daarop dat die kosmos slegs verstaan kan word as sy gerigtheid op die bestaan van die mens aanvaar word. In die uitbou van evolusieleer het die mens hierdie gerigtheid aanvaar - 'n evolusie vanaf die eenvoudigste vorme van lewe tot die mens. Hiervoor word dikwels 'n aktiewe en rigtinggewende lewensbeginsel as deel van die natuur aanvaar, 'n panteïsme. Paul Davies (1995:131), byvoorbeeld, beskou die aarde as 'n holistiese self-regulerende stelsel, 'n organisme met 'n vooruitgaande gerigtheid.
Evolusie aanvaar 'n geweldadige stryd met 'n selfsugtige ingesteldheid van individuele organismes (lewende wesens) om te oorleef. Sommige Christene glo dat God op 'n tydstip toe die mens alreeds op aarde was, die tuin van Eden vir die mensepaar Adam en Eva voorberei het. Dit sou dan 'n idilliese gebied, afgeskerm van die geweldadige omgewing, gewees het. Na die sondeval is Adam en Eva uit die tuin van Eden uitgedryf. Adam en Eva was dan nie die eerste mense op aarde nie. Om die eerste hoofstukke van Genesis met die evolusieleer te versoen, aanvaar baie dat hierdie hoofstukke van Genesis digterlike beeldspraak is, geskryf vir die vroeëre mensheid.
Enkele geslagte gelede was die gemiddelde ouderdom van westerlinge onder vyftig jaar. Vandag is dit naby sewentig jaar. Dit is vooruitgang wat deur ontwikkelinge in mediese kundigheid verkry is. Die ouderdomme van die aartsvaders soos dit in Genesis opgeteken is, is egter veel hoër en pas nie in by die evolusioniste aanvaarding van vooruitgang nie. Buitendien was die aartsvaders aan veel meer gevare blootgestel en het hulle nie die moderne middels, higiëne en entstowwe gehad wat ons vandag het nie. Daar bestaan geen rede waarom hulle so lank kon geleef het nie. Hoe rym hierdie hoë ouderdomme met Psalm 90? Hoe is dit moontlik dat byvoorbeeld vader Set eers op 105 jaar die vader van Enos geword het (Gen 5)? Die ouderdomme van die aartsvaders kan daarom nie letterlik waar wees nie.
Ook die sondvloed as 'n katastrofe van wêreldomvang pas nie in by die evolusieleer, ook nie dat Noag werklik verteenwoordigers van al wat 'n dier is oor die ganse aardbol in die Ark bymekaar kon gebring het nie. Hierdie onderbreking van die evolusieproses om daarna weer voort te gaan kan nie waar wees nie.
Om saam te vat: As evolusie as feitelik waar aanvaar word, kan die eerste elf hoofstukke van Genesis nie geskiedkundig waar wees nie. Evolusieleer bring skrifgesag onder verdenking. Vir skrifkritici kan baie in die Skrif net nie meer waar wees op grond van ons "kennis" vandag nie. Die Skrif mag geldig gewees het deur die oë en met die kennis van destydse skrywers. Skrifkritici redeneer dat as die Heilige Gees vir die mense van destyds moes vertel hoe God werklik die heelal en in besonder die aarde (deur evolusie) geskep het, sou hulle dit nie kon begryp het nie. Vandag is ons evolusionisties veel verder ontwikkel as in die tyd toe die Bybelboeke geskryf is en het ons nou die kennis om die skepping te verstaan.
Die diepte in die werklikheid
Sien ons die diepte in die werklikheid, waarin ons leef raak, of is die werklikheid slegs dit wat ons met ons verstand kan peil en verstaan? Evolusieleer funksioneer in 'n oppervlakkige mensgeskepte werklikheid. Dit bepaal hoe ons dink en hoe ons ons waarnemings bewoord. Byvoorbeeld, die groottoon van die mens het so groot ontwikkel omdat dit 'n baie belangrike funksie vervul by vastrap as 'n mens loop en hardloop. Waarom gee ons die natuur die eer dat die groottoon "so groot ontwikkel" het? Dit is tog God wat die mens tot in die fynste besonderhede wonderlik-effektief en funksioneel geskape het. Dit is Hy wat die mens met die groottoon geskape het sodat die mens funksioneel is.
Ons denke is onder die invloed van evolusieleer sterk gerig op aanpassing van organismes (lewende wesens) by die omgewing deur verandering, in plaas dat ons die wonderlike voorsienigheid van die Skepper raaksien wat aan organismes die vermoë gegee het om in verskillende omstandighede funksioneel te kan wees en te kan voortleef. 'n Varing, byvoorbeeld, pas nie by sy omgewing aan weens spanninge en kragte wat die natuur in die varing geplaas het en waardeur die varing 'n plek in die ekologie gekry het nie. Nee, dit is God wat die plant so geskape en gestruktureer het dat dit sy sinvolle plek in die skepping kan inneem as 'n pioniersgewas, sodat dit onder groter plante as 'n grondbedekker kan groei en floreer, met baie min sonlig en in taamlike nat omstandighede. Daar is 'n Goddelike plan met elke gewas en verskynsel. God se voorsienigheid het aan die skepping 'n veel groter diepte gegee as wat ons as mense met ons beperkte verstandelike vermoëns kan peil. 'n Skeppingsperspektief ontbreek feitlik geheel en al in ons denke en kom feitlik nêrens voor in ons handboeke, geskrifte en literatuur, selfs selde in werke van Bybelgelowiges.
Daar is wonderlike diepte in elke faset van die werklikheid, wat ons nie kan peil nie. Neem byvoorbeeld die ruimte. Ons leefruimte is op die aarde, en word deur swaartekrag en materie ingeperk. As ons die hemelruim probeer peil, kom ons af op duiselingwekkende afstande en getalle: daar is miljarde en nogeens miljarde sterrestelsels (galaksies), wat miljarde en nogeens miljarde ligjare van ons verwyder is. Ons weet nie en verstaan nie die diepte van ruimte nie. Net so verstaan ons ook nie die diepte van tyd nie, nog minder die tyd van ons aardse bestaan. Deur ons verstand en ervaring koppel ons tyd en ruimte met mekaar deur ligsnelheid. Sodoende kry ons 'n oppervlakkige beeld van tyd. Wat is tyd? Dit weet ons nie. Op grond van ons aardse ervaring gee ons met ons verstand aan tyd 'n bepaalde betekenis en bereken dan dat die aarde sowat 4 000 miljoen jaar en die heelal 16 000 miljoen jaar oud moet wees. Dit is duiselendwekkende getalle, waarvan ons die werklike betekenis (en korrektheid) nie kan peil nie. Ons gebruik hierdie astronomiese ouderdomme om die evolusieteorie aanneemlik maak. Daarmee vervlak ons die werklikheid van God se skepping.
Dieselfde geld vir samelewingsverbande. In Gen 10 orden Hy die mensdom in hulle geslagte tot volke. In sy voorsienigheid sien Hy dat die sondige mens nie in staat is om as een groot massa saam te lewe nie. Daarom is volke, in hulle geslagte, nodig vir ordelike samelewing. En wanneer die mens hom hierteen verset by Babel (Gen 11) laat Hy die mensdom as volke uitmekaar gaan. Dat dit genadige voorsienigheid is, sien ons daarin dat Hy nie die mense tot eenlinge uitmekaar laat gaan nie, maar as volke in hulle geslagte en in hulle tale. Ook in samelewingsverbande is daar 'n diepte, wat ons geensins kan deursien nie. Samelewingsverbande is deel van God se skeppingsverordeninge.
So beskou kan volke gesien word as natuurlike verbande omdat die "geslagte", d.w.s. die gesinne, families, die natuurlike boustene van volke is. Dit bied ruimte vir 'n ordelike voortbestaan. Waar dit egter verwerp word, wanneer die volksgrens dof word ter wille van die Internasionalisme, kom die geslagte in die gedrang. Dan word die huwelike en gesinslewe wankelmoedig en ontstaan wanorde. Internasionalisme is 'n uitvloeisel van evolusieleer, waarvolgens mense en volke produkte van dieselfde natuurprosesse is. Dan kry ons 'n eie menslike gesagsorde (deur byvoorbeeld menseregte) waarin daar nie ruimte is vir die erkenning van God se gesag nie. So kom telkens die Babelbeginsel ter sprake, wanneer die mens in opstand teen God kom.
Die aksent in boeke oor huweliksvoorligting bly maar op die biologiese en nie op die wonderbaarlike diepte en betekenis van "man en vrou het hy hulle geskape" (Gen 1:27) en die "hulp wat by hom pas" (Gen 2:18) nie. Die huwelik is daarom oneindig meer as geslagtelike omgang soos tussen diere. Bybelgelowige skrywers is ook dikwels te versigtig om kinders as die seën op die huwelik te beklemtoon. Onder die invloed van die evolusieleer (dat die mens uit die dier ontwikkel het) het die diepte uit die huwelik verdwyn en het selfsugtige neigings oorgeneem. Selfsug is 'n uitvloeisel van evolusieleer en is die ondergang van menige huwelike.
Afsluiting
Evolusionisties is die mens gevorm deur die natuur in sy stryd om biologies, verstandelik, geestelik, kultureel en in skeppingsvermoëns vooruit te gaan. Die mens het baie vermoëns gemeen met sy dierlike eweknieë en moet daarom ook deel van die natuur wees. Die mens is egter uniek omdat hy nie alleen meer intelligent is nie, maar ook op 'n ander wyse intelligent is as die groot ape. Die hoogs ingewikkelde en verbeeldingryke denke van die mens en sy godsdiens het eers laat in die evolusionistiese ontwikkeling onverwags gekom (~40 000 jaar gelede). Vandag word die idee van 'n opkomende mens as produk van natuurprosesse ervaar as 'n kragtige bevryding van sy gees. Dit gee aan die mens die vryheid, die kennis en die verantwoordelikheid om sy geestelike vermoëns, sy persoonlike lewe en sy gemeenskapslewe meer regstreeks en met groter morele bewustheid en oortuiging te vorm as tevore. Verder is 'n enkel godsdiens is nie meer vir die mens aanvaarbaar nie. Godsdiens moet pluralisties wees met pluralistiese etiese perspektiewe.
Evolusionisme reduseer die wonderbaarlike diepte van God se skepping tot die vlak van die mens se intellektuele vermoëns. Die mens word deur evolusionisme bepaler en skepper van sy eie toekoms. Daardeur negeer die mens die roeping wat hy van God ontvang het en kom sodoende in opstaan teen God se gesag oor hom.
N.S. Van Kepler, die bekende Duitse sterrekundige, het die volgende gebed bewaar gebly: 'Ek dank u, Skepper en Here, dat U my hierdie vreugde in U skepping, hierdie genot in die werke van U hande geskenk het. Ek het die heerlikheid van U werke aan die mense bekend gemaak vir sover my eindige gees U oneindigheid kon verstaan. As ek iets gesê het, wat U onwaardig was of as ek eie eer mag gesoek het, vergeef my dit dan tog genadiglik.' Galileo het ook gesê: die werke van Gods vinger - dit wil sê wat sy hande in die skepping gemaak het - en die werke van God se mond - dit wil sê wat God in sy Woord geopenbaar het - kan mekaar nie teenspreek nie. Ons kan daarom op hierdie wyse onbevange wetenskap bedryf.